By die kruis verby
Wandel jy ook by die Kruis verby,
      En sien nie die Meester hang?
            Hy hang daar om ons van ons las te bevry!
En al wat jy sien is die skyn en gloed
      van wêreldplesier en kyk verby
            sonder te sien hoe stort Hy Sy bloed!
Wandel jy dig by die Kruis verby,
      En kniel nie meer aan Sy voet –
            Om daar verlossing van smart te verkry?
En al wat jy smag is die skyngenot
      wat werk en lok, en jy vergeet
            dan Sy woorde en Sy so sware lot!
Wandel jy flink by die Kruis verby,
      En neem nie die offer aan ---
            Om vergifnis van al jou sonde te kry
En al wat jy vra is die sedeloosheid
      wat heers en woed, en jy dink nie
            aan wat volg op die graf en tyd!
Wandel jy nog by die Kruis verby
      Sonder te dink en sonder te peins;
            Waarom Hy dan nog hangende bly?
En al wat jy wil is eie eer,
      En selfbemin vergeet jy dan
            Dat deur jou sonde kruisig jy opnuut die Heer.
Wandel jy om Jesus Kruis verby
      Dat jy Sy lyding nie sal aanskou?
            Dit was o, sondaar vir jou en my!
En al wat jy wil is die maklikste weg
      wat breed is en wyd, en gaan verby
            die Wyser wat dui op die Hemelweg!
Wandel tot naby die Kruis, O siel,
      En kyk op na die Een wat daar hang.
            En daar aan Sy voet moet jy kniel.
En al wat jy moet is aan Hom te bely
      al jou sonde en skuld met berou,
            en daar deur Sy Bloed versoening verkry.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg in 1952